Enneagram Sewes word gemotiveer deur die behoefte om die lewe ten volle te beleef en pyn te vermy. Vir hulle is vryheid, optimisme en die vermoë om geïnspireer te word en geleenthede aan te gryp soos dit kom, van groot waarde. Sewes sien die lewe as 'n avontuur en hou daarvan om speels en spontaan te wees. Op hul beste is Sewes tevrede en rustig wanneer hulle daarin slaag om nugterheid te omhels en ten volle teenwoordig te wees vir hulself en die wêreld om hulle. Wanneer hulle minder gesond funksioneer, kan ander Sewes egter ervaar as impulsief, onverbonde en ongerig, omdat hulle afgelei word deur 'n onversadigbare soeke na vervulling en 'n vrees om iets te mis.
Selfgesprek
"Die toekoms is propvol opwindende moontlikhede en ek wil dit alles beleef! Ek is reg; ek verdien dit wat ek begeer. Wat lê volgende voor? Ek moet vorentoe beur; ek smag na my vryheid."
Sewes het 'n lewendige verstand wat moeiteloos tussen idees rondspring en verbande lê. Hierdie enneatipe wil hul energie en tyd wy aan dit wat hulle boei, en reageer blitsig op stimulasie. Die Sewe-denkstyl kombineer dus vinnige verstandelike verwerking met 'n sterk behoefte aan verstandelike stimulasie. Hulle smag na opsies en haat dit as hul keuses beperk word of as hulle op enige manier aan bande gelê voel. Die Sewe-denkstyl stel hulle in staat om 'n wye kennis oor 'n verskeidenheid onderwerpe op te bou. Hierdie algemene kennis kan kreatiwiteit en innovasie aanwakker, want hulle het 'n magdom inligting om uit te put en met mekaar te verbind. Sewes raak opgewonde oor hul vermoë om talle idees te genereer en met ander te deel. Wanneer hulle nuwe inligting teëkom, verwerk en integreer hulle dit in 'n oogwink, en leer dikwels spelenderwys en deur dit prakties toe te pas.
Sewes raak gou verveeld en alledaagse of herhalende take kan hulle laat moed verloor. Daarom soek hulle aktief opwinding en probeer nuwe dinge uit, dikwels terwyl hulle take onvoltooid los om met iets vars te begin. Sewes wil momentum in die lewe skep en tree doelgerig op om dinge aan die gang te hou. Hulle geniet die adrenalien-roes wat gepaard gaan met die opwinding en waagmoed om iets nuuts aan te pak. Wanneer Sewes onder druk is, sal hulle multitaak, planne deurmekaar gooi en geneig wees om meer op hulle bord te laai as wat prakties moontlik is. Die Sewe se liggaam is waarskynlik net so aktief soos hul verstand. Hierdie verpersoonliking van energie kan manifesteer as besige lyftaal en konstante beweging - die meeste Sewes hou glad nie daarvan om vir meer as 'n paar minute stil te sit nie. Vir ander kan dit voorkom asof Sewes rusteloos is, altyd besig om take te skommel of op pad na iewers anders.
Sewes voel tuis aan die positiewe kant van die emosionele spektrum en druk hulself gewoonlik opgewek en energiek uit. Ander beleef Sewes as vreugdevol, optimisties en entoesiasties. Wanneer Sewes ongemaklike en negatiewe emosies soos angs, verveling, vrees of hartseer ervaar, is hul instinktiewe reaksie om te fokus op positiewe moontlikhede en toekomsplanne. Dit stel hulle in staat om ongemak te ontsnap en te bowe te kom. Sewes is ook redelik vaardig daarin om negatiewe ervarings te herformuleer as positiewe geleenthede of leerlesse. Hierdie tipe rasionalisering kan dit vir 'n Sewe moeilik maak om volle persoonlike verantwoordelikheid te aanvaar wanneer dinge skeefloop, maar help hulle ook om positief te bly. Sewes hou nie daarvan as hul vermoëns bevraagteken word nie en kan kwaad word as mense dit doen. Hulle sal heel moontlik doelbewus probeer om die atmosfeer ligter en meer positief te maak wanneer dinge swaar raak, of probeer om die stemming te verlig deur grappies te maak.
Klik hieronder om die Vleuels te verken
Tipe 7 Vleuel 6: Tipe 7 Vleuel 8:Die Enneagram Sewe se soeke na vryheid en vermyding van ongemak word verskillend uitgedruk deur die drie Subtipes.
Die Integrative Enneagram-vraelys is 'n dinamiese, aanpasbare en intelligente assessering. Dit neem sowat 30 minute om te voltooi en evalueer jou Enneagram-profiel, 27 subtipes, sentrums, vleuels, lyne, vlakke van integrasie en 6 dimensies van spanning.
Ontdek jou tipe